Die Wet op Burgerlike Verbintenisse, 2006 (Wet Nr. 17 van 2006) wat aan paartjies van dieselfde geslag dieselfde regte en status as heteroseksuele getroude paartjies verleen, is baanbrekerswerk. Die Wet verseker en respekteer die gelykheid en waardigheid van mense van dieselfde geslag in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Die ondertekening van die Wet op Burgerlike Verbintenisse maak die demokratiese Suid-Afrika die veertiende land ter wêreld en die eerste op die vasteland wat paartjies van dieselfde geslag gelyke beskerming bied deur middel van wetlike instrumente soos die Wet op Burgerlike Verbintenisse.

Ingevolge die bepalings van die Wet op Burgerlike Verbintenisse, mag enigiemand van 18 jaar of ouer 'n burgerlike verbintenis aangaan. Enige godsdienstige denominasie of organisasie wat burgerlike verbintenisse wil voltrek, moet skriftelik by die Minister aansoek doen om aangewys te word as 'n godsdienstige instelling wat huwelike mag voltrek ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse.

Verder moet enige predikant of enige persoon wat 'n verantwoordelike posisie in enige aangewese godsdienstige instelling beklee, skriftelik aansoek doen om as 'n huweliksbeampte aangewys te word vir die doeleindes van die voltrekking van huwelike in ooreenstemming met hierdie Wet. Staatsamptenare wat reeds as huweliksbeamptes aangewys is ingevolge die Huwelikswet van 1961, kan burgerlike verbintenisse met onmiddellike effek voltrek.

Die partye by die burgerlike verbintenis kan kies om hul burgerlike verbintenis as 'n huwelik of 'n burgerlike vennootskap te laat registreer, waarna 'n sertifikaat uitgereik sal word en die besonderhede in die bevolkingsregister ingevoer sal word. Daar moet kennis geneem word dat die Wet op die Burgerlike Verbintenis nie die Huwelikswet van 1961 of die Wet op die Erkenning van die Gebruiklike Huwelike van 1998 herroep nie.